GRENSVERHALE

In die bosoorlog is medics spottenderwys ‘Tampaxtiffies’ genoem.
Image by: JJJ Harmse

Deur ‘n Tampaxtiffie

J J J Harmse

Bloedstom

Bloedstom

In die uitgestrekte sand

van die buurland

het die jongmanne soos spriete gebuig

in die velheid van ‘n groot genadelose woede.

Ek het probeer om met my hande

die bloed se vloei in die honger sand te keer,

te stop, te stol

en in die nag in my slaap

gelê en ruk

met ‘n hart vol weghol.

Spriete, gebuig en geknak en gebreek

die choppers laai hulle af.

Aan vlarde.

Ons prop hulle op

voer hulle af ‘states’ toe

waar die mammas en die meisies

vir hulle lyke wag.

Ek trek vir laas ‘n ooglid oor die droë, blinde staar.

Generaal, wanneer maak julle klaar?

Die helde van agtien of negentien het wapens gedra

waarvan ek die name nie eens ken nie.

In vuurreën uit choppers, buffels en hippo’s gespring

en ons, die Tampaxtiffies,

het hulle stukke in die sand opgetel,

hulle in slopemmers van die siekeboeg se vloer opgevee

en met niemand

daaroor

gepraat

nie.

Meer as ‘n duisend woorde

Nooit sou ek kon dink dat, “Kom ons kry nuwe gordyne vir ons slaapkamer,” gaan hierdie draai maak nie. Die gordyne word toe, “Die ou beddegoed pas nou glad nie hier nie”. “Kom ons verf sommer die kaste uit terwyl ons besig is.” “Wat van ander teëls?” Nou staan ek midde-in die chaos wat nuwe gordyne in ons kamer veroorsaak het. Ek soek tussen alles wat op die bed uitgepak is na my bike se spaarsleutels. Ek vroetel ‘n kartonboksie van my vrou raak wat van die bed af gly. Die inhoud val oop op die vloer. ‘n Koevert met ou briewe. ‘n Foto gly halfpad tussen die briewe uit.

Ek tel dit op en sien eers die agterkant. In die sterk lopende skrif van ‘n man: “Lief jou”, en onderaan die datum – 28 September 1979.

Ek draai die foto om. Ek het ‘n bliksmaak in my mond en my ore suis. Ek staar in onbegrip na die stukkie geskiedenis in my hand.

‘n Jongman met ‘n reuseglimlag het sy arms om ‘n meisie wat skaam na die fotograaf loer. Ek kyk na die meisie, dit is byna dertig jaar gelede geneem. Hoekom is dié foto hiér, hoe beland dit hier, in my huis, in ons kamer? Ek bly vir hoe lank staan terwyl die herinneringe my onkant betrap.

Dit ís dieselfde foto, met ‘n ander inskrywing. Uit ‘n leeftyd gelede.

Ovamboland

Die chopper se lig soek-soek na ons in die digte bosnag. My hart klop in my keel. Ek het ‘n vermoede van die onheil in die chopper wat op ons wag. Laatnag casavacs is altyd meer grusaam, sinistêr en ontwrigtend. Die skerp lig vind ons. Die chopperlemme kap doe-doe-doe deur die stofgelaaide lug. Die boshoed oor my neus en mond kan nie die stof uit my asem hou nie.

Die Frelon kom hurk swaar in Ovamboland se sand. Die skuifdeur is reeds oop. ‘n Donker onheilspellende gat. Vliegtuigbrandstof, olie en stof ruik na angs en dood. My mond is droog. Die adrenaliengloed maak my arms warm en laat my hande liggies bewe. Ek dwing my lyf gebukkend vorentoe, teen my weersin in. Ek weet wat kom.

“Het jy hom?” vra die vlugsersant en begin die draagbaar uitstoot sonder om vir my antwoord te wag. Ek is effens van balans af en die dekselse ding is swaar, maar ek strompel weer my ewewig terug. Ek moet ‘n paar tree agteruitloop met die draagbaarhandvatsels gesighoogte, die gewig deur my elmboë teen my lyf gestut, totdat Dries die ander kant by die vlugsersant kan oorneem.

“Stadig, daar’s nie haas nie. Hulle is almal ‘gone’ – ‘n personeelmyn. Gaan bêre hulle mooi, kêrels!,” skreeu die vlugingenieur oor die choppergeraas.

Koue sweet en hoendervel slaan op my nek en gesig uit. Ek kan nie baie in die donker uitmaak van die dooie massa wat hier teenaan my gesig op die draagbaar lê nie. Ek kan dit net ruik. Bloed, gebrande vleis, kruit en kots. Ek veg my instink. Doen die dril. Sak, wissel arms, draai om, looppas tot by die Unimogambulans, omkeer, lig, skuif in. Dit hak vas. Iets koud en klam druk teen die vel in my binne-arm vas.

“Stop, fok Dries,” dit is ‘n stomp afgebreekte mensrugstring, gestroop van als wat na mens lyk, sien ek in die ambulans se vlou binnelig. Ek sien ook daar is twee liggame, of eerder een halwe en nog ‘n driekwart lyf op die draagbaar. “OK, stoot, ek’s reg”, maar ek is nie reg nie, ek weet ek gaan nooit weer wees soos ek was nie.

Ek probeer die taai roesbruin vlek op my arm met die boshoed afvee. Dit voel asof die kol doodsheid ‘n gat in my vel gaan brand. “Mensbloed is giftig”, het die dokter in bevel van ons veldhospitaal in ons ingedril.

“Hou op met skrop, daar’s nog”, Dries se stem is ‘n paar oktawe hoër as normaal. Sy gesig is grys van die stof en ‘n modderige streep strek van sy ooghoek skuins oor sy wang. Hy lyk nie lekker nie. Ons is terug by die chopper.

Die loadie het duidelik nie die vlugingenieur se geduld nie: “Julle moet roer susters. Ons kan nie heel fokken aand op júlle nes sit nie. Daa’s baie kak om op te ruim in Sektor een zero”, gil hy. Ek is hol, daar’s niks in my nie, my kop is leeg dis net my ingewande wat in my wange sit wat keer dat ek nie op die verdomde PF vloek nie.

Die tweede draagbaar is aansienlik ligter. Ek sien eers net ‘n hand wat oor die rand van die draagbaar hang. Dis baie vuil, grond en bloed en pikswart gebrand. In die ambulanslig sien ek sy gesig. Die helfte wat nog vel aan het laat my vir ‘n sekonde dink dis Chris Vorster wat saam met my op skool was, maar sy hare was baie rooi. Dié makabere halwe gesig se vaal hare staan stokstyf orent op sy kop. Hy is oortrek met stof. Dit is net die wit van die tande wat ek in die oop, vellose kakebeen as ‘n ander kleur kan onderskei.

Die Frelon gooi ons vir oulaas onder stof voor dit die digte nag in storm.

Dries vroetel rond met die aansitter van die Unimog. Hy vloek vreeslik, kry die groot masjien aan die gang, laat dit bokspring en vrek. Hy herhaal die vorige sin met meer oorgawe. Ons is eindelik in die pad. Dries brand die Mog dat die enjin fluit, sy groot lyf hang oor die stuur. “Fok, fok, fok,” prewel hy hardop. Die ergste lê nou vir ons voor.

Daar is ‘n siek, soet chemiese reuk in die lykshuis. Ek wil stik aan die ontsmette  lug en ek weet uit ondervinding dit kleef vir lank nog aan jou klere nadat jy die kil, walglike atmosfeer verlaat het.

Ek en Dries stoei ons doodse vrag onder die ysige helder ligte in. Twee vreesagtige miskruiers wat generaals se stront aanrol. Ek voel skielik intens alleen, dit sit soos’n groot nes in ’n holte net bokant my maag. Ek veg met alles wat nog in my oor is teen die wilde wegholangs wat al sterker word namate ons grusame taak vorder.

Dries swets aaneen. Ek neem aan dit help hom om te fokus. Ek trek die sjirurgiese handskoene oor my bewende vingers. Die rubber klap op my polse as ek dit styftrek. Ek en Dries loer vir mekaar oor die gesigmaskers en staal onsself.

Eers moet die klere uit. Alle besittings en ID-boeke moet in plastieksakkies saam met die lyk in ‘n ‘bodybag’ geberg word. Ek trek die man met die halwe gesig se stewels uit. Ek kan ruik hulle was lank in die veld. Dit tref my dat hierdie yskoue, stywe, wit voete steeds kan stink. Hy het vanoggend op sy slaapsak in die veld gesit en hierdie kouse aangetrek, gewonder hoeveel kilo’s hulle sal moet stap, sy ‘ratpack’-ontbyt beplan – onwetend, onskuldig.

Ek trek die broek af oor die stywe bene. Ek ruik die pis. Die hemp moet ek los knip. Die materiaal is hard waar die bloed gestol het en die skêr knip moeilik daardeur. Sy skouer is byna weggeskiet. Hy was seker die derde troep van die ontploffing af. Die skade is aan die ander twee se onder- en middellywe. Hy het die skrapnel met sy bolyf ontmoet. Ek sukkel om die mou tussen die rou vleis van sy borskas en skouer los te kry. Skielik is ek deur die naat. Sy arm val … van die tafel af. Dit land op my stewels. Die vingers lê bo-oor my regterstewel. Klou my vas. Ek ruk die masker van my gesig af. Kyk magteloos hoe my kots oor die vloer spat teen my broekspyp op. My lyf bly ruk. Ek vee my mond met my mou af, tel die arm op. Ek kots weer tussen my stewels. Ek bly gehurk sit tot my lyf bedaar.

Dries staar my uitdrukkingloos aan. Sy gesig is papierwit. Sy oë wyd en klam.

Ek gaan aan met my werk. Ek moet hom gewas kry. Eers spuit ek die ergste stof en bloed af. Die lug word vol met ‘n koper reuk wanneer die bloed en water meng. Dit loop in vore van die vlekvryestaaltafel af tot op die vloer. Ek begin hom met ‘n groot spons was. Ek los die oop rou vleisdele en was net die vel. Die vel aan sy gesig is soos skuurpapier. Die ontploffing het sand in sy vel inforseer. Ek was eers die saamgekoekte stof uit sy enkele starende oog voordat ek probeer om die lid daaroor te trek. Dit bly effens oop en ek los dit so. Al wat ek nog voel is dat my mond droog is. Verder is dit doodstil binnekant.

Ek en Dries help mekaar om die lyke elkeen in ‘n dik rubberagtige ‘bodybag’ toe te zip en in die koelkaste te pak. Die sakkies met persoonlike besittings moet eers deur die senior mediese offisier by die siekeboeg gedokumenteer en afgeteken word. Ons sal dit more terugbring.

Ons sit op die trappies voor die lykshuis. Ons sit starend en rook. Al het ek dit al twee keer gewas, gril ek vir my hande. In die plastieksakkie is daar ‘n stukkie hout waaraan hy gekerf het. Dit lyk soos ‘n miniatuur R1. Sy sakmessie. ID boek. Sonder om te dink haal ek die boekie uit. Bloed het die bladsye gevlek en onder die plastiekomslaggie ingewerk. Dit is nou droog. Ek blaai oop. Cornelius Gerhardus Verwey.

Iets glip agter uit die omslag en dwarrel tot op die trap voor my. Ek tel dit op. Draai dit om. Dis ‘n foto. Cornelius Gerhardus Verwey, met ‘n reuseglimlag, het sy arms om ‘n meisie wat skaam na die fotograaf loer. Ek merk die meisie se oë op. Sy is mooi op ‘n baie eenvoudige manier, maar haar oë praat – oor goed ver van hier. Skielik kom al die lewe weer terug in my lyf. Ek wil verstik aan die bol emosie in my keel. Ek probeer die bloedkors van die foto af vee, maar dit word net erger en ek los dit. Ek kan my oë nie van die foto af hou nie. Dit is soos ‘n oomblik se kalm stilte in hierdie nag se grusame geraas. Agterop in ‘n mooi meisiehandskrif: “Lief jou ook –  28 September 1979”.

Ek kan dink hoe Cornelius Gerhardus Verwey vanoggend ook met sy vinger oor die foto gevryf het. Verlangend. Nou lê hy stukkend, toegezip in ‘n donker rubbersak. Gebere in ‘n donker yskas op ‘n yskoue staallaai. En sy weet van niks. Sy droom nog, verlang nog. En hy is yskoud, weg, weggeskiet, weggebloei, weggebêre.

Ek skiet my stompie die nag in. Die vuurrooi kool spat met ‘n klein ontploffing in die donker uitmekaar.

Dit is die selfde foto. Cornelius Gerhardus Verwey, met ‘n reuseglimlag en sy arms om my vrou wat skaam na die fotograaf loer – toe sy 17 was en hy skaars 19.

Woordelys – sommige van die terme in die stuk mag dalk aan lesers onbekend wees, hier volg ‘n verduideliking:

Casavac: casualty evacuation, om gewondes na ‘n siekeboeg/hospitaal te vervoer.

Frelon: tipe helikopter wat in die bosoorlog gebruik is.

Unimog / Mog: ‘n tipe bosvoertuig wat ook as ambulanse ingerig is.

Sektor een zero: die hele gevegsgebied is in sektore opgedeel, dus sektor 10.

PF: permanent force, iemand wat permanent in die weermag was, dus nie ‘n dienspligtige nie.

Loadie: ‘n lugmagterm – ‘n persoon wat spesifieke take tydens die vlug het, soos om vrag veilig te hou.

Ratpack: ration pack, ‘n kospakkie wat soldate op patrollie gekry het.

Author

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *