Ons kyk tot ná middernag TV, om seker te maak die ‘Groot Stroper’ gaan rêrig tronk toe. Ek sou graag self wou sien hoe hy agter in die vangwa gelaai word. Maar nou ja, elke bietjie geregtigheid help. Selfs die blinknuwe fasiliteit in Estcourt is darem steeds ‘n tronk, reg?
En ure later, sonder waarskuwing – of was daar? – bars beelde van geweld in my huis los. Mense hardloop stelend van winkelruit tot gebreekte winkelruit, verby geplunderde OTMs en laai nóg op. Ek is verstom oor die drie polisiemanne langs hulle vangwa: hulle staan, pistole slap aan hulle broeke en gaap die skare plunderaars aan.
Ek wil die 40-inch Samsung gryp, daarmee straat toe hol en gil, “Kom vat die verdomde ding!” Ek wil die geweld saam met die TV weggee, vir ‘n stroper; of vir ‘n ou in ‘n shack wat nog nooit ‘n TV besit het nie. Want ek wil nie meer sien nie …
Johannes Kerkorrel sou verstaan het, hy was destyds net so gatvol; vir PW se gesig – hy wou ook asseblief van die beeldmateriaal ontslae raak. “Sit dit af, sit dit af.” Vir ‘n oomblik dink ek ek sal PW se vingerswaaiende stropery verkies, net vir ‘n oomblik. Die Krokodil het ook sy bydrae gemaak om ons in hierdie maalkolk te laat afwentel.
Ek verstar by die beelde van my mensgenote se ywer om nie nét te vat nie – dit moet brand, bránd om die honger na verwoesting te stil. Ek verstaan nie dáárdie honger nie, ek verstaan niks meer nie. Ek verstaan nie wie hieruit iets gaan wen nie. Waar gaan dit stop? As dit ooit gaan stop. Wie gaan dit stop? Waar het dit begin? Wie het dit begin? Ou moeilikheid wat nou genoeg momentum het om bultaf te donder, die duister in?
‘n Druppel val op die bladsy voor my. En toe huil ek.
Ek huil vir dié wat só honger het dat hulle moet steel. Ek huil vir elke winkeleienaar wat sy toekomsplanne in die vlamme sien verteer en elke werker wat sy loon sien wegrook. Ek huil oor ‘n lam regering wat té min té laat kon doen. Oor elkeen wat in ‘n hospitaal veg om lewe en dood. Ek huil sommer oor die polisie nie traangas het nie. Ek huil vir Deborah Steinmar se buurvrou wat luidkeels moet uitroep oor sy ‘n bietjie goeie lyfgenot mis (VWB, Vrydag 16 Julie). Ek huil sommer oor elkeen wat al sy hond moes laat uitsit, oor enkelma’s, oor seuns sonder pa’s. Oor elke jongmens wie se toekoms vaag en onmoontlik lyk oor hulle nie werk kan kry nie, oor Jennie wat my in die army ge-dearJohnny het – snot en trane breek die walle.
Toe ek my asem terugkry, my gladde gevreet afvee, sien ek hulle. Op die TV. Twee seuntjies heel bo-op ‘n volgesteelde, opgestapelde trokkie. Hulle klou baldadig aan ‘n fiets vas. ‘n Makro-etiket wapper ewe vrolik aan die splinternuwe blink ‘handlebars’. Hulle uitbundige gesiggies ‘n skril kontras teen die week se verwoesting om hulle. Vanaand, vanaand is hulle droom waarheid – ‘n bloedrooi Raleigh MXR mountain bicycle om die stofstraat in die township mee plat te spog!
My waarheid oor ons ‘geknelde land’ wys die eerste kraak …
Wat is die waarheid tog? ‘n Wondervreemde ding. Dalk kan dit my vry maak? In my bevoorregte voorkamer, met die 40-inch al afbetaal, is elke plunderaar ‘n skelm wat sambokstraf verdien. En vir die twee seuns met die bloedrooi Raleigh? Vir hulle is elke plunderaar ‘n held wat vir die heel eerste keer met ‘n reuse-TV en ‘n bloednuwe fiets by die huis gaan aankom. My waarheid, jou waarheid, dalk is daar eenvoudig geen kollektiewe waarheid nie. Dalk lê die enigste bietjie waarheid daarin – die enigste bietjie sin – om in my ‘geknelde, gekwelde land’ vir elke donker rookwolk ‘n klein Raleigh-rooi randjie te gun.
4 Responses
Powerful and moving, Jedrie.
This is so powerful, Jedrie. And very moving. Apologies for responding in English. My command of Afrikaans is weak.
Stom.
Wat kan ‘n mens dink? Wat kan ‘n mens doen? Te min. Ek huil saam met jou, Jedrie. Elke dag waneer ek met warm water stort, huil ek vir die duisende mense wat nie eers water het nie. Ek huil wanneer ek ontbyt eet, want daar is duisende mense wie vandag niks gaan eet nie. Dit is hartseer.