DIE NAG – IN KLEUR

Vincent van Gogh starry night

DIE NAG IN KLEUR

vir Don McLean wat ons kon laat hoor

wat Vincent vir ons wou verf.

Iewers tussen oorskulp,
cochlea en breinstam
oorwurm ‘n liedjie
af tot in die donker gange
van my binneruim
waar dit weergalm
en brokkel
aan deurgeskaafde weefsel
wat op breekpunt wag
vir onheil
– of genade.


Dit weerklank
soos Vincent
se sterrige
maanligsirkels
op sneeuwit linne
en ververf
die musiekman se binneruim
dat hy note en woorde 
kon tower
uit grou en blou wanhoop
wat in die eggo
hom laat verstaan het:

    ‘wat jy
    vir my
    probeer
    sê het
    met
    jou
    kwas’ 

en hy vir my
laat refrein het
tot ek verstaan
dat jy
vir ons
uit jou skuilplek
wou sê
hoe verskriklik dit is
om soos ‘n minnaar
die sternag in te verskiet
oor jy te mooi was
vir ‘n wêreld soos dié
waar ons nou
net die fluisteringe
van jou enkele
sterrenag
kan hoor sê
hoe seer
dit
alles
is.

The views and opinions expressed in this article are those of the author and do not necessarily reflect the views of Safrea or its members.

Author

2 Responses

    1. Hi, Peter – die lied spook nog al die jare met my. Ek het die gedig geskryf na aanleiding van iets wat jy vroeer in hierdie forum daaroor geskryf het. So dit is eintlik jou inspirasie. Dankie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *