Die jaar toe my werf my wêreld geword het
Toe Covid 19 ons wêreld gevange neem en fotografiegeleenthede tot ‘n baie klein kreatiewe aktiwiteit krimp, het ek nuwe lensgeleenthede in die klein wêreldjie van ons werf begin soek – en gevind. Ek deel graag die foto’s wat my sommige dae van waansin gered het.
SONNEBLOMME
Om skuiling te kry teen die gekheid van hierdie vreemde seisoen het my vrou begin plant – by die sonstoep, in blikke, kassies en plastiekbottels – alles wat hol is en grond kan hou. Van kruie en klein blommetjies tot groente. Saam met die kruie kom ‘n paar los sonneblomplante op. Ek vind ‘n baba bidsprinkaan op soek na skuiling tussen die oopvoublare van die jong sonneblom.
HERFS – OORGANGSTYD
Die beste van ons agtertuin is ‘n reuse-witstinkhoutboom. In die somer gee hy ruim sy koelte, in die winter laat hy onbaatsugtig die son toe om ons op die stoep warm te maak; en in die herfs, dan kleur hy ons hele werf in en ek buk-buk onder sy takke rond om die goudgeel en laaste bietjies groen saam met die sonlig te vang.
WINTERBLOMME
Een winter, lank gelede, het ons vir my ma ‘n pot met pienk winterblommetjies gekoop. Hulle kruip net in die winter uit hulle bolletjies – aanvanklik soos klein voëlagtige spruite wat met geboë koppies, skaam-skaam die winterson kom soek. Dan ontpop hulle oornag in pienk blomme wat aan orgidieë herinner. Na haar dood het ons die plantjie ge-erf. In lockdown 2.0 vang ek sy skoonheid op die kombuisvensterbank vas.
VOLSOMER
Ons reuse-stinkhout – as die son eers tussen sy blare begin speel, kan ek myself nie keer nie, dan kom my kamera uit. Hy is só deel van die karakter van ons werf as die mense, honde en katte wat hier woon.
PROTEA
IN DIE STUDIO
‘n Enkele rooi protea pronk sy lyne op sy beste met net een lig van die kant af. Dit is die beeldskone eenvoud en die kleurkontras wat my oorrompel en begeester het.
ROOSKLEUR
Met die enkel lig kon ek nie die blou en die groen glase weerstaan nie, maar wat sal twee glase sonder ‘n roos wees?
7 Responses
Jedrie, you have an amazing talent to not only give meaning to small beautiful things through the lens of your camera, but through the way you put pen on paper, you bring words to life. It not only tells a story, but it also paints a picture in your mind. Please do not ever stop sharing your creativity
Geluk J3. Jou eerste artikel in ons Chronicle, en, as ek reg onthou, die eerste een in Afrikaans. Ek moes nou my Afrikaans gaan ‘polish’, maar dit is ‘n pragtige taal wanneer dit goed geskryf is. Die fotograwe is ook uitstekend. I look forward to more of your contributions.
Petria and Peter, thank you so much for the encouragement – will post more.
Regards
JJ Harmse
Breathtaking!
These comments mean so much to me, thanks for taking the time Andrea.
Pragtige woorde en fotos. Such a wonderful combination of words and imagery. Thank you, Jedrie!
Thanks Delilah, I really appreciate your generosity.