OOR ALE, YLE EN AKSENTE


Streeksuitspraak

+

Taalvermenging

=
VERWARRING

Ek is ‘n ongelooflike kok – ongelooflik omdat ek altyd nuwe geregte op my gaste uittoets. Meestal met goeie gevolge, maar soms taamlik rampspoedig.

My jongste “slagoffers” was familie uit die Vrystaat – ideale proefkonyne vir my aanslag op Jamie Oliver se “Steak and Ale Pie.” Met maandeinde op ons en die sente skaars, het ek die “ale” met goedkoper “milk stout” vervang. Trots en vol bravade het ek die dis van die dag aangekondig: “Bees- en “ale” pastei.

My hand was ‘n bietjie swaar met die bier, maar nietemin het amper almal gesmul, behalwe die mooie student wat baie effentjies geëet het. “Seker maar op ‘n dieet – nie dat sy dit nodig het nie,” het ek so in my enigheid gedink.

‘n Dag later kry ek ‘n oproep uit die Vrystaat. Ek lag so lekker dat ek die foon laat val. “Nee, Sussie was nie op ‘n dieet nie,” sê haar pa. Sy kon net nie die vreemde dis wat haar tante voorgesit het, kleinkry nie. Verwonderd het sy aan die liefde van haar hart vertel, dat sy ‘n baie eienaardige gereg by haar familie in KZN geëet het. “Nou wat sou dit nou wees,” vra die besorgde kerel. “Bees – en uilpastei,” sê sy bekommerd.

Sy het seker gewonder waar haar tannie die uil gaan vang het. “Vir wat sê jy nie BIER nie,” lag haar vader.

Self ‘n oud-Vrystater besef ek waar die verwarring ingetree het. Vrystaters ontrond. Iets verskrikliks – die teenpool van die Pretoriôners. “Deur” word “deer” en “ale” het in die Afrikaanse oor “uil” geword wat as “yl” in die Vrystaat uitgespreek word. Omdat daar gereeld vreemde goeters by die KZN tannie geëet word, het sy aangeneem die “ale” is ‘n gevoëlte.

Ter versagting van my mengelmoestaal: Na 28 jaar in ‘n plek waar Afrikaans bittermin verstaan en gehoor word, het my Afrikaanse taalgebruik stelselmatig begin verswak. Die feit dat ek my brood in Engels verdien, het natuurlik bygedra tot ‘n stomper moedertaaltong en ‘n woordbrein wat nie meer so rats is nie en uit pure luigeit die naaste woord gryp en uitspoeg.

Ek is eintlik so Afrikaans soos biltong, mosbolletjies en bobotie, met Franse, Hollandse, Duitse en waarskynlik Khoi voorsate. En ek het op ‘n klein Vrystaatse dorpie grootgeword, waar niemand kon Engels praat nie. In ons gekombineerde laer-en hoërskool moes ons onderwysers “bless their Afrikaans souls!” vir ons Engels deur middel van Afrikaans leer. Ek wonder steeds of sommige van hulle nie kon Engels praat nie. En die Sesothos het almal Afrikaans gepraat – party seker onder dwang, maar nietemin. 

“Overgeset synde,” soos my Ouma sou sê, (sy het tot op haar sterfdag in Hoog-Hollands gebid), tale het my nog altyd gefassineer en ‘n graad wat Engels insluit, was vir seker op die horison. Helaas, toe die Engelse professor begin praat, kon dit net sowel Grieks gewees het. Ek het nie ‘n woord verstaan nie – dit het ‘n tydjie geneem voor ek besef het, dit is dieselfde vak wat ons Engels op skool genoem het.

Die fakulteit is doerie jare gelei deur ene Professor “Vark” Venter, wat na sy Oxford-opleiding by die klein plattelandse Afrikaanse Universiteit geland het. Hy moes seker in sy tee gestik het om ons “clutch plate” Afrikaans aan te hoor. Daarom, was gereelde sessies by die taallaboratorium ons voorland. Daniel Jones se “Pronunciation Dictionary” het ‘n tweede Bybel geword. En wanneer jy ‘n woord verkeerd uitgespreek het, het hy die Daniel Jones so oor die tafel geskiet en vererg gemompel, “Look it up, girl! Look it up!”

Die gevolg was dat ek elke enkele Engelse woord foneties aangeleer en uitgespreek het. Toe ek aan ‘n musiekblyspel in my nuwe “Engelse” blyplek deelneem, het hierdie “Fairy of the Ring,” (die rol wat ek vertolk het), elke woord van my dialoog foneties uitgeskryf en geleer. Wonder bo wonder, word ek toe uitgesonder vir my puik spel in die plaaslike koerant. Ek was besonder in my skik tot ek twee “old dames” hoor praat het: “That French actress, who played the Fairy of the Ring, was really good!”

En dis nou hoe “ale” as ‘n “uil” in my pastei geland het.

The views and opinions expressed in this article are those of the author and do not necessarily reflect the views of Safrea or its members.

One Response

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *