En daar staan die twee polisiemanne by die voordeur, en Ma agter hulle. Ek weet nie wáár om te begin vra nie, my rustige Saterdagmiddag aan skerwe.
“We brought your mother here, her car was stolen at the Spar,” sê die vors sersant.
Die kort van ‘n lang storie is dat Ma se sleutels met ‘n slenter in die plaaslike Spar by haar afgeneem is. Ouma se koppie is maar deurmekaar die laaste tyd en ek jaag eers gou Spar toe om seker te maak sy het nie net vergeet waar sy parkeer het nie. Maar nee, zat Levina, hy’s weg. Na agt jaar is die kar eintlik splinternuut met net 35 000 km op die klok. Die versekerde bedrag van R60 000 koop nie weer die selfde hoeveelheid kar nie.
So soek ek twee weke lank vir Ma ‘n ander kar. Nie regtig ‘n hoogtepunt van my maand nie, maar ek doen my bes op die gebruikte motorwebwerwe. Op 83 hou Ma nie van nuwighede nie. Veral nie as die nuwigheid van knoppies, skakelaars, hefbome of, behoede ons, slimskerms voorsien is nie. My doelwit is om dieselfde kar of iets baie na aan dieselfde te koop, want ek is nie lus om moedswillige onwilliges op te lei nie.
Ek laat my deur ‘n paar mense, en finaal deur die verkoopsman, ompraat vir ‘n motor met ‘n outomatiese ratkas. “Ouma gaan nie glo hoe maklik die moderne uitvinding van die outomatiese transmissie die ryervaring maak nie,” gaan die man voort.
Om ma darem te laat voel sy het ‘n aandeel in die besluit gehad, ry ek haar die selfde middag nog na die handelaar toe om te sien, en te toetsbestuur.
“Ag, dit is so ‘n mooi klein karretjie, ek weet mos jy sou seker gemaak het dit is ‘n goeie voertuig,” waarsku Ma. Ons klim in, Ma agter die stuur. Sy sit ‘n hele ruk doodstil en staar na haar voete wat in die pedaalruimte rondtrap.
“Hier’s fout met die kar.”
“Nee Ma, hy is outomaties. Daar is nie ‘n koppelaar nie,” verdedig ek uit gewoonte.
Sy maak die deur oop en klim uit. My moed sak skoene toe, hier gaat ons voort met die soektog.
“Die kar is seker reg. Jy weet mos wat ek nodig het. Maar jy sal moet kom om my al die nuwighede te leer,” dit klink na die dreigement wat dit waarskynlik is.
Die volgende oggend moet Ma dokter toe en dit is seker die ideale geleentheid om haar te laat ‘voel hoe maklik die moderne uitvinding van die outomatiese transmissie die ryervaring maak’. Maar ek is vol hoop, ma bestuur immers al langer as ek, hoe moeilik kan die oorskakel na die eenvoudige outomatiese sisteem nou regtig wees?
Ons herhaal die prosedure van die vorige dag. “Hier’s fout.”
“Nee Ma, dis outomaties …”
“Hou die linkervoet net daar links in die hoek, jy doen niks met die linkervoet nie.” Helaas die linkervoet was die minste van my probleme.
Sy kry niks reg nie. Toe die kar uiteindelik aan die beweeg is, weet sy nie hoe om te draai nie, sy vergeet van flikkerligte, weet nie wat om by die verkeerslig te doen nie – ek moet alles verduidelik, in die hitte van die oomblik voor dit dreig om ‘n botsing te word. Na twee stopstrate en ‘n verkeerslig is my senuwees reeds rou.
Maar ek leer vinnig in nood. “Ma, daar voor is ‘n verkeerslig, ons gaan daar regs moet draai. Raait, Ma kan spoed verminder …. Uhm, jy los die petrol?”
“Nou?”
“Ja, nou. Ma moet rém trap. Ja, die groot pedaal. Ma moet stop, daar kom karre! Rem!!”
Ek kom eers na ‘n rukkie agter my mond bloei binne. Seker raakgebyt of dalk my bek teen die dashbord gestamp met die pletterstop by die verkeerslig. Dalk moet ek die bloed net laat loop, dan sal ander bestuurders dalk besef daar’s fout in dié kar. Almal blaas toeter en beduie wild. Die volk is reeds beneuk, ‘n ou tannie wat ‘n bloeiende verstandelik agtergeblewene in ‘n klein karretjie rondry, is die laaste strooi om almal oor die rand die abyss in af te kry.
Ma lyk vasberade agter die stuur, sy leun vooroor, konsentreer geweldig en maak klein nat geluitjies met haar tong oor haar droë lippe. Sy bestuur verbete. Ons doen al 30 km per uur. Ons is in ‘n dubbelweg en by die volgende verkeerslig moet ons oor die aankomende twee bane regs draai. Ek is lus om in die ry uit te klim. Ma op haar eie te laat sterf, ek kan nie in ‘n wrak doodgaan nie, ek sien eerder kans vir ‘n paar beserings van uit die kar uitval as om al die angs van ‘n botsing met aankomende verkeer te beleef.
Genadiglik is die verkeerslig groen toe ons daar aankom. “Ma móét die flikker aansit. Ja, dis die klein hefboompie links, sit hom asseblief aan. Draai die ding na regs, ek bedoel na bo! NOU! Ma moet rem!” smeek-skreeu ek. Die aankomende verkeer is ‘n groot trok en Ma sluip halfpad in sy baan tot stilstand. Ek weet nie of ons eerder moet probeer oorjaag of moet stop nie. Ek moes my oë toegeknyp het, want toe ek dit oopmaak sien ek die trok se grill reg teen my ruit. Hy staan stil. Ma se oë is nog toe. “Ek dink ma kan maar ry, maak net gou terwyl die verkeerslig die karre in dié baan keer.” Ek weet nie hoe ek nog mooi praat nie, waarskynlik van blote angs.
Ek het so ‘n suur smakie agter in my keel, maar dit lyk nie of ek al naar geword het nie. Ons is wragtag te vroeg by die dokter se spreekkamers en ek wil nie nou vir 15 minute saam met Ma in die karretjie voor die plek vasgekeer sit nie. My aambeie pla en ek voel my mantelvliesbreuk het weer losgekom, want daar is skuim in my mond. Ek dink so, want ek glo nie mens kan van skok hondsdol raak nie.
“Terwyl daar tyd is moet ons die kar maar vol brandstof gaan maak Ma, ek sien hy is na aan leeg.”
“Wil jy nie maar bestuur nie, Seun,” haar stemmetjie is dun en as sy my nie so pas byna vermoor het nie, sou ek haar jammer kon kry.
“Nee, Ma moet oefen tot jy dit onder die knie het,” hou ek my streng. As ek eerlik is sal ek moet erken dat ek ook nie kans sien om nou te bestuur nie. Eintlik wil ek nie uitklim nie, ek weet nie hoe my broek lyk nie – skok is ‘n lelike ding.
“Nou moet Ma in trurat in, ja, dis die R-gleuf.”
Ons vlieg uit die parkeerplek weg. Ma gee ‘n klein gilletjie, of was dit ek? Genadiglik is daar geen verkeer in die pad en wonder bo wonder kom sy by die rem uit voor ons deur die oorkanste heining jaag. En die nagmerrie duur voort.
Dit is gelukkig nie ver na die Engen toe nie. Hulle verkoop die beste pies in die dorp by hierdie een, maar ek is nog te naar om vir ‘n garagepaai lus te wees.
“Ok, Ma, links en stadig in by die inrit op. Daar is niemand by daai pomp nie, die een slap regs. Nee, Ma! Die een dáár, wat oop is! Draai! Ok, daar’s hy, stadig nou.”
En toe loop alles skeef.
Die petroljoggie se glimlag is breed in sy ronde gesig. Armswaaiend stap hy nader en beduie ons in na die petrolpomp toe.
En. Toe. Gee. Ma. Vet.
Nee, ek weet nie hoekom nie – spanningspasma, koronêr, beroerte, angsaanval, ek weet nie, maar ons pyl reg op die joggie af.
Sy breë glimlag word ‘n ‘O’ van skrik en sy oë word soos papborde. Hy hang skreeuend halflyf oor die karretjie se neus, sy hande klop op die enjinkap terwyl ons met hom, soos ‘n trofee op die kar se neus, op die gebou af jaag.
“Briek! Hemel Ma, briek!!”
Ons stop net voor ons die man teen die muur vasdruk. Die kar se refs gaan deur die enjinkap want, wie weet hoe, Ma kry die rem- en die petrolpedaal gelyktydig getrap.
“Los net, los net alles!” ek pluk die handrem op en vlieg by die deur uit.
“Yo, yo,” is al wat die arme, asvaal petroljoggie kan uitkry.
“Sorrie, sorrie, só sorrie,” is al wat ek uitkry. Ek stap om na die bestuurskant van die kar en pluk die deur oop. “Ek’s nou klaar, ek kan nie meer nie, ek leer niemand weer kar bestuur nie, nooit weer nie, niemand nie!” my stem bewe, maar ek kry dit reg om nie te skreeu nie.
Sy kyk my stip in die oë: “EK. IS. NOU. FOKKIN. KLAAR!”
En so is ons toe klaar. Ma het nooit weer bestuur nie. En die genade daarvan is, dit was háár besluit.
Hierdie storie het in die nuwe Afrikaanse tydskrif, Bruis, die eerste keer verskyn. Die outeur gee graag erkenning aan Piet Grobler vir die illustrasies wat hier gebruik is.

6 Responses
Jedrie, you are a story teller of note! This really is a delightful story. I’m glad it didn’t end too badly for anyone.
Thanks Andrea – this is a real story about my mom in law. As she got older we were worried that the day would come when we had to take her keys away – she was not a woman you told what to do! So I am eternally grateful that it happened this way.
JA. SWAER. KLAAR!. Maar ek hoop dat Ma ten minste nie klaar was met brood en koeksisters bak nie. Ek glo sy het seker nog haar outydse plaas melktert voorberei? Ja? Dankie Jedrie. Ek is bly dat jy nie vir Ma op jou motorfiets laat ry het nie.
O genade Peter nee, bike-tyd is my eie-tyd – ek sou nimmer vir antie Thel opgelaai het nie. Sy was ook nie ‘n bakster nie, sy was ‘n professionele vrou – ‘n assistent-direkteur by Departement Landbou destyds en ‘n formidabele taalpraktisyn. Sy het spelfoute in woordeboeke gekorregeer en ek was te bang om my skryfgoed vir haar te gee om te lees – sy was ongenaakbaar! Maar ek was baie lief vir haar al het ons soms erg vasgesit.
This article made my day. You’re a fabulous storyteller and the Afrikaans language being so descriptive does it even more justice. Thank you, Jedrie 🙂
Siestog, Jedrie! Arme Ma! Arme jy! En die arme petroljoggie! Ek kry ‘n bietjie skaam dat ek gelag het terwyl ek hierdie storie gelees het.