Só kom elke oes in

Graansilo’s, wat soos stille toesighouers oor die platteland waak, fassineer vir Jedrie Harmse sedert sy kinderjare. In sy loopbaan as bedryfsredakteur in die landbou het hy die geleentheid gehad om hierdie betonreuse van nader deur sy kamera te bekyk. ‘Al die aspekte van boerdery, maar veral oestyd, is fassinerend. Met enige akkerboubedryf is dit in hierdie tyd dat ‘n boer sy sukses meet. Om te sien hoe boere hulle mielies na die graansilo’s aanry en al die aktiwiteite daar rondom, verskaf uitstekende fotogeleenthede’, vertel hy. Hierdie artikel en foto’s was in ‘n groot landboumaatskappy se lyfblad gepubliseer, terwyl hy redakteur was.

Mielies oppad na graansilo's
Mielieboere ry hulle ‘goud’ in wavragte na die koöperasie se graansilo waar dit geberg word totdat dit verkoop is.

DIE KURWE VAN die smal toegangspad na Schweizer-Reneke se silo staan hak-aan-neus met trekkers en trokke tot op die rand gelaai met hulle kosbare vragte mielies. Die aand trek stadig toe oor nog ’n dag se werk. Die atmosfeer is gelaai met ‘n drang om die vrug op die arbeid by die weegbrug en deur die graderingsproses te kry.

    Die drywers maak langs die pad met mieliestronke vuur vir ’n bietjie hitte teen die wintersaand se byt. Om die vure vryf hulle die koue uit hulle hande en ek glo hulle praat oor al die harde werk wat die oes tot hier gebring het.

    Onder die helder buisligte in die silokantoor is die atmosfeer in skerp kontras met die rustigheid van die Noordwes-provinsie se sonsondergang buite. Binne is dit besig. Dit is al byna sewe-uur, maar die telefone lui aanhoudend. Koos van de Venter en sy span antwoord oproepe van besorgde boere, versamel data oor elke vrag, vul die vragvorms in, doen noukeurig gradering en verwerk die data oor die oes sorgvuldig op rekenaar.             “Nee, hierdie tyd van die jaar gaan ons eers huis toe as die werk kláár is”, antwoord hy my vraag oor tjailatyd.

‘n Kettingreaksie

Die baie en laat reën van hierdie jaar het ’n hele kettingreaksie veroorsaak en nou is die oes laat. Ondanks die druk wat dit op die silo-personeel plaas, is daar ’n gemoedelike atmosfeer in die kantoor.

    Hiram George, graangradeerder, se vingers sorteer vinnig deur die monsters mieliepitte wat hy in ’n bak op die toonbank uitgooi. Met ’n kennersoog gaan hy elke monster deur en maak sy notas op die vorm. Toe ek wegry om my dag met ’n lekker bord kos en ’n sagte matras te gaan afsluit, vang ek myself neurie “… en die koring rol en die sakke word vol en die oompie glimlag breed …”, al is dit mielies wat ons sien inrol. Ek glo ‘n klomp oompies in die Schweizer-kontrei glimlag vanaand breed.                 

Dit is skaars lig die volgende oggend toe hulle die werk hervat. Binne oomblikke is die omgewing in rep en roer. Gelaaide sleepwaens stort hulle geel of wit vragte in stofwolke in die silo se pens in. Ek het my seun saamgebring wat wil sien hoe ’n mens mielies tot heel bo in die hoë buise gelaai kry.

Gradering word met die hand gedoen.
Bo van die silo af het jy ‘n 360 grade uitsig oor die platteland. Silo’s verskil in hoogte van 40 tot 70 meter. Binne in die gang wat bo op die silobuise langs loop, is die bobuisband wat die graan tot by die buis bring.

Die uitsig

Ons ry styfgeprop in die klein hysbakkie tot bo. Hoog bo Schweizer kyk ons hoe die dag oor die Noordweste oopvou.

    Ver onder ons wag die waens reeds in ’n lang tou elkeen sy beurt af. Dit is besigheid soos in elke seisoen. Ek dink onwillekeurig aan die boere vir wie hierdie aktiwiteite die afhandeling van maande se werk beteken. Nou moet die oes verkoop word. Safex-opsies wat vroeër geneem is en aande se werk voor die rekenaar met die telefoon teen die oor word nou op die spits gedryf.

    Dan dink ek aan my pa wat self met sy rooi Massey Harris en sleepwa sy graan silo toe aangery het. Ek onthou veral hoe hy sy somme agterop die boksie Stuyvesant 30 staan en maak het. Dit was lank gelede.

    Terug op die grond staan en kyk ons hoe die strome mielies uit die waens tuimel en hoe die manne flink elke pit uitvee voordat die trok plek maak vir die volgende vrag. My seun roep my en beduie ek moet my hand in die hoop mielies indruk. “Dit voel nie soos dit lyk nie. Dit voel sag soos ’n lap en koel as ek my hand tussen die pitte indruk. Dit lyk vir my soos juwele”, sê hy.

            “… dis geel en lyk soos goud, hy tel sy sente oor en oor ..,” draal die liedjie weer in my kop.            

As ek iets in my beskeie betrokkenheid by die landbou en boere geleer het, dan is dit dat daardie sente nie inrol sonder baie stof vreet en bitter trane nie. Boere durf, hoe ryk hulle ookal vir my en jou mag lyk, seisoen na seisoen die onbekende aan. Dit verg moed om jaar na jaar met die weer te dans en na ewe wispelturige markte te vry.

Binne in die graansilo's
Bo in die graansilo vervoer hierdie bobuisbande die mielies tot waar dit in een van die buise gestort word.

Find more about Jedrie Harmse

For more of Jedrie Harmse’s articles

More about SAFREA Chronicle

The views and opinions expressed in this article are those of the author and do not necessarily reflect the views of Safrea or its members.

Author

2 Responses

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *